4 Noord-Thailand: Pai
Die afhandeling van ons werk in Chiang Mai het saamgeval met die Thaise nuwejaarslangnaweek in April, die Sonkran-fees. Dit is 'n tyd van groot jolyt, met vlotoptogte en allerhande dinge, maar die hoofkomponent daarvan is dat al weet leef en beweeg op straat papnat gegooi word. Chiang Mai is die hoofsentrum van die fees, waarskynlik omdat daar baie water beskikbaar is uit die groot grag rondom die stadskern. Dit is goed en wel, en jolig, maar as 'n mens nie tuis is met droogfasiliteite nie lewer dit nogal probleme op - veral as jy die volgende dag moet verder reis. En natuurlik is dit ook 'n probleem as jy 'n kamera by jou het. Ek het toe besluit om Chiang Mai eers 'n rukkie opsy te skuif en die noordweste van Thailand te besoek, en dan na afloop van Sonkran terug te kom om 'n rukkie in die stadkern van Chiang Mai te vertoef en die besienswaardighede te sien. So, ek het die Donderdag, aan die begin van die langnaweek verkas na Pai, 'n kleinerige dorpie in die bergagtige noordweste van Thailand.
Ek het met 'n minibus van Chiang Mai na Pai gereis en so teen eenuur die middag daar aangekom. Die watergooiery het toe al begin maar dit was nog net 'n paar jong kinders wat daarby betrokke was en hulle het darem die ou oom met sy bagasie droog laat deurgaan na my verblyfplek. Die watergooiery het egter gou begin momentum optel en ek het besef dat ek my moet regmaak vir grootskaalse waterwerke. Gelukkig het dit darem altyd so uitgewerk dat die watergooiery teen 18:00 (sononder) gestop het en 'n mens sonder probleme die aand kon gaan eet.
Ek het aanvanklik gedink om 'n motorfietsie te huur om rond te kyk in Pai maar dit het gou duidelik geword dat motorfietse 'n groot teiken van die watergooiers was - hulle kan niks terugdoen nie! Ek het dus maar besluit om 'n georganiseerde toer per motor die volgende dag te doen, wat 'n wyse besluit was. Oral waar ons gery het die volgende dat was die motorfietse aan die kortste ent. Ek het die volgende foto die Vrydagmiddag uit die veilige oord van my hotelkamer geneem. Die uithangbord links bo moes eintlik gelui het: Laundry free of charge during Sonkran!
Kyk die Sonkran-waterkrans wat die motorfietsryer om sy nek gekry het!
Pai is mooi gele-e tussen berge. Die berge op hierdie foto is wes van Pai, op die pad na Mae Hong Son, wat my volgende bestemming was.
Die berge wes van Pai. Die pad gaan oor hierdie berge met 'n indrukwekkende pas.
Een van die besienswaardighede van Pai is die warmwaterbronne. Die water kom teen 80 grade uit die grond en loop dan 'n ent teen die berg af na hierdie poel, wat opgehelder is deur die Thaise meise met die kleurvolle sambreel. Dit was 'n uitsonderlike mooi meisie - ek het min mooies in Thailand gesien.
Die warmbronpoel naby Pai
Sonkran is 'n tyd wanneer 'n mens heelwat van die Thaise mense in hul kleurvolle volksdrag sien. Hier is 'n groepie mense wat ek by een van die watervalle naby Pai raakgeloop het:
Vroue in volksdrag tydens die Sonkran-feestyd
Die halfdagtoer het my by die meeste besienswaardighede rondom Pai uitgebring, maar daar was heeltemal te veel Amerikaanse toeriste wat die plek oorgeneem het en ek het besluit om verder te gaan na Mae Hong Son, 'n bergdorp verder wes, redelik naby aan die grens met Myanmar. Daarvoor moes ek 'n buskaartjie gaan koop want ek wou die oggend vroeg wegkom voordat die watergooiery begin sodat ek droog met my bagasie kon deurkom. So, ek het maar met my swembroek aan die kaartjie gaan koop en in 'n ziplock-sak gesit wat oom Theuns Cloete se dogter Thea in Bangkok al vir my gegee het ter voorbereiding vir Sonkran. Baie dankie, Thea!
Om droog op die bussie te kom, het ek plek op die vroegste bus bespreek wat 08:00 sou vertrek. Daardie tyd van die oggend is die gewone restaurante nog toe, maar die stalletjies langs die straat is oop. Ek het toe maar my na een van hulle gewend en gekyk wat die tannie het. Daar was 'n hopie eiers wat ek aanvaar het gekookte eiers is en verder het sy ryspap gehad (wat algemeen ook in hotelle voorgesit vir Thaise mense vir ontbyt) en 'n bietjie gaar vleis wat daarmee saamgaan. Dit was of dit, of honger bly vir die 4 ure se busrit. Ek probeer toe maar. Die gaar eiers was toe nie gaar en rou in die ryspap ingeroer! Ek het dit darem oorleef.




No comments:
Post a Comment