Die reis na Mae Hong Son het toe glad verloop. Daar is twee bergpasse op pad, so dit is 'n slingerende stadige pad, maar dis mooi om te sien.
Almal op die bussie was Thailanders, buiten ek en 'n Franse meisie, Lucie. Die busstasie is 'n hele ent uit die dorp en Lucie het gevra of ons 'n tuk-tuk (die driewiel motorfietstaxitjies) kon deel. Dit het toe later geblyk dat ons twee omtrent die enigste buitelanders in Mae Hong Son (MHS) was, en ons het toe maar die middag en aand saamge-eet en gesels. Baie interessant, want sy is vir 'n jaar lank met verlof en deurreis 'n groot deel van die Ooste en Australasi-e.
Sonkran was nog altyd met ons, maar minder erg as in Pai. (Die buitelanders in Pai was kwaai aanstokers van die watergooiiery.) In MHS was dit hoofsaaklik die jonger kinders wat water gegooi het, en 'n mens kon hulle redelik intimideer.
Die lewe in MHS sentreer redelik om 'n klein meer in die middel van die dorp, en daar was allerhande Sonkranvierings aan die gang: roeiwedstryde, stoeiery op 'n paal bo die water, ens. Dit was Saterdag en daar was baie mense rondom die water.
Roeiwedstryd op die meer van Mae Hong Son
Die verligte Boeda-tempel langs die meer van Mae Hong Son
Daar is heelwat besienswaardighede rondom MHS en ek het weer besluit om maar 'n motortoer te gebruik. Die omgewing van MHS is redelik bergagtig, maar dit was oor die algemeen nie baie dramatiese landskap nie.
Daar is 'n indilliese omgewing by die sogenaamde visgrot, waar groot karpe uitbroei. Daar vloei 'n pragtige riviertjie, soos in die volgende foto:
Op die noordwestelike hoek van Thailand is 'n interessante Sjinese dorpie. Toe Chiang Kai-sjek die oorlog in Sjina teen die Kommuniste verloor het, het hy hierheen gevlug en hom 'n rukkie hier gevestig. Van sy volgelinge woon nog steeds daar en handhaaf 'n chinese lewenswyse.
Die sjinese dorpie in Noordwes Thailand. Die agterste berge is in Myanmar gele-e.
Verder suid, ook naby die Myanmar-grens is daar nog stamme (sogenaamde 'hill tribes') wat nog hul eie lewensgewoontes het. Die een groep het die gebruik om met koperringe hul vroue se nekke te rek, soos by hierdie meisie hieronder:
My motorbestuurder/gids was haastig terug want die middag laat was daar groot feesvierings en optogte in MHS. Hy het my egter gewaarsku dat 'n mens papnat anderkant gaan uitkom. Ek het toe maar uit my hotelvenster die petalje beskou en dit was so: Daar was allerhande sierwaens - en 'n rivier van water in die straat af. Ek wou die volgende oggend vertrek, terug na Chiang Mai, en daar was nie drooggeriewe beskikbaar nie - so ek het die middag maar binnenshuis gebly.
Die volgende oggend was dit die lang pad terug na Chiang Mai. Die vorige bestuurders wat ek gehad het, was baie kalm en versigtig, maar hierdie ou was haastig en 'n mens moes heelpad klou om regop te bly. Dit alles vir 'n halfuur wat hy gewen het op sewe ure se rit.





Hi oom Cobus!
ReplyDeleteWat n wonderlike blog! Was nou vir n wyle in die beskrywings van oom vasgevang en gevoel of ek self daar was! Ek sal verseker d blog gereeld dophou! Veilig reis! Ons sommer lekker jaloers!
Groete
Johan en Edri