Friday, May 18, 2012

Deel 15: Laos - Vientiane

Die hoofstad van Laos - Vientiane


Vientiane is die hoofstad van Laos  Dit is langs die Mekongrivier gele-e, dus feitlik op die grens met Thailand aan die westekant. Noord-suid is dit ongeveer in die middel van land. Dit is 'n stad van 600,000 inwoners en redelik besig. Die Franse invloed is nog sterk aanwesig in bakkerye en in name op geboue. Die Franse meisie, Lucie, wat ek in Mae Hong Son raakgeloop het, het vertel dat sy 'n bakkery in Vientiane gevind het waarvan die croissants niks hoef terug te staan vir die bakkerye in Frankryk nie! 'n Voorbeeld van die Franse invloed is duidelik in die triomfboog wat hulle gebou het - met die invloed van die Arc de Triomphe van Parys duidelik sigbaar:

Die Mekong is hier al redelik breed, soos 'n mens op die volgende foto kan sien.

Vientiane is nie 'n besonder interessante plek nie. Dit het die gewone kwota van boedatempels en stupas, en natuurlik markte. Die markte hier in die Ooste is gewoonlik interessant met allerhande onbekende en bekende goed. Onder laasgenoemde tel die berge skoene wat 'n mens dikwels daar raakloop:
Daar is natuurlik ook tonnels vol klere en akkers vol snuisterye. Die kosafdeling is gewoonlik interessant - soms skokkend. Die speserye is egter gewoonlik mooi kleurvol:
en daar is natuurlik allerhande, vir ons ongewone, vrugte.

Vientiane het sy kwota van tempels, boedabeelde en stupas. Die goed het by my keel begin uithang en sal julle net met twee verveel:
en

By hierdie stupa het 'n vriendelike roomysverkoopster ons ingewag, hartlikheid wat nogal tipies van die Lao-mense is:

'n Ander voorbeeld van 'n vriendelike Lao-vrou is die volgende foto wat ek geneem toe 'n lid van die toergroep 'n gesinnetjie afgeneem het:

Ons vertrek more na Pnomh Penh in Kambodja, so dit is die laaste berig uit Laos. Ek het die besoek aan Laos baie geniet, maar sou eerder die tweede dag wat ons hier in Vientiane gespandeer het, in Vang Vieng wou benut het om meer van hulle mooi bergw^ereld te ervaar - maar dit is 'n probleem met 'n toergroep dat 'n mens se eie smaak net sover gaan as die toerskedule waarop jou keuse aanvanklik val.


No comments:

Post a Comment