Saturday, May 5, 2012

Deel 4c: Terug in Chiang Mai, die keer vir vakansie

Terug in Chiang Mai


Dit was half soos om tuis te kom toe ek die middag laat in Chiang Mai aankom. Ek weet redelik wat is waar, maar dit is natuurlik 'n rustiger gevoel as voorheen omdat die werk afgehandel is!

Ek het gereel vir verblyf in 'n hotel in die binnestad, en word baie vriendelik ontvang. Toe die dame my tas se gewig voel, besluit sy terstond om my op te gradeer na 'n luukse kamer op die tweede verdieping, eerder as die kamer wat aan my toegeken was op die vierde verdieping. Dit was die beste kamer wat ek in 'n lang tyd gehad het - kyk hieronder:
Chiang Mai het talle Boeda-tempels, tot vervelens toe.Hier is 'n voorbeeld van een:

Dit was warm, middagtermperature van 38 tot 39 grade, wat 'n mens aanmoedig om in die oggend vroeg aktief te wees. Die fonteine en stadsmuur van Chiang Mai was pragtig in die vroegoggendlig en het my gefassineer:



 Ook teen sononder was daar mooi gesigte:


Soggens vroeg was daar oral Boediste-monnike in hul saffraankleurige jurke wat rondloop en kos bedel vir die dag. 


Elkeen loop rond met 'n kosbak waarin mense vir hulle kos plaas, en die skenker kniel dan en die monnike sing een of ander wysie wat seker 'n seenbede is.
Dit lyk of die monnik aan die linkerkant meer ge-interesseerd is in wat die tannie regmaak vir hom as in die ou wat geseen moet word!

Die Thaise mense is baie handvaardig en rondom Chiang Mai is daar allerhande fabrieke wat mooi goed maak - fyn silwerware, pragtige matte (teen billike pryse), en iets wat soort van die handelsmerk van CM is: geverfde sambrele. Op hierdie foto is die tannie besig om haar werk te inspekteer:
Hulle maak regtig pragtige sambrele. 

Net wes van CM is 'n ho-erige bergie (die een op die sononderfoto) met 'n tempel op die top daarvan. Ek is een oggend daarheen, maar dit is nogal 'n ontnugtering om te sien hoeveel trappies 'n mens moet uitklim vanwaar die bussie jou aflaai om bo te kom. 
Die tempel het my nie juis ge-interesseer nie, maar 'n mens het 'n mooi uitsig van bo-af. Ongelukkig was dit baie dynserig. 

Ek het CM my basis gemaak vir 'n hele paar dae en daarvandaan twee dagtoere onderneem, wat ek in die volgende twee dele sal beskryf.      

No comments:

Post a Comment