Eerste deel van besoek aan Laos: Luang Prabang
Ek los Deel 12 eers uit en sal later iets oor Hanoi s^e.
Laos is die westelike buurland van Vietnam se noordekant. Dit is 'n land van rustige en vreedsame mense wat baie swaar gely het onder die Vietnamese oorlog van die Amerikaners. Hulle is geweldig gebombardeer in daardie tyd en die noorde van die land is nog plek-plek ontoeganklik as gevolg van bomme wat nie ontplof het nie.
Ons is nou in Luang Prabang, so soort van die hoofsentrum in Noord-Laos. Dit is nie 'n groot stad nie - 'n redelike landelike groot dorp. Dit is opmerklik baie rustiger hier as in Vietnam. Die verkeer in Vietnam, en veral die groot stede, is baie besig en raserig - elkeen bestuur meer met sy toeter as iets anders. As voetganger moet 'n mens jou in Hanoi skraal hou - hulle sal jou maklik omry. En met die hordes motorfietse is dit nogal iets om op te konsentreer.
Die mense van Laos is vriendelik, maar hul kennis van vreemde tale is beperk. Daar word nog redelik Frans gepraat deur ouer mense, en daar is heelwat Franse toeriste hier - 'n oorblyfsel van die Franse koloniale tyd. Ook die geboue weerspie-el iets van die koloniale karakter. Hierdie is 'n tipiese toneel langs die strate - hierdie is langs die Mekong.
Een van die probleme van 'n georganiseerde toer is dat 'n mens minder met die plaaslike mense te doen kry en dikwels in restaurante 'n verwesterse spyskaart kry. Dit was nogal interessant dat die plaaslike gids ons direk na ons aankoms na 'n restaurant geneem het waar die plaaslike mense eet. Die kombuis is direk langs die sypaadjie:
Die kos wat ons gekry het was baie lekker en geurig - ek dink lekkerder as wat ons in Vietnam gekry het.
Daar is heelwat boeda-tempels in Luang Prabang, soos in al die groter sentra in die boedistiese omgewing. Dit raak nogal tot 'n mate vervelig. Gelukkig is die gids in Laos 'n minder oortuigde boedis as die een in Vietnam en loop nie so oor van die positiewe punte van boedisme nie. Die argitektuur van die tempels het oor die algemeen 'n tipiese styl, met skerp meervoudige dakke, soos hier:
Laos het ‘n
koning gehad tot in 1975 toe die
kommuniste oorgeneem het. Die koninklike paleis word nou as museum gebruik en
vertoon die ruimtes soos dit in gebruik was. Die paleis is in 1904 gebou en is
‘n imposante struktuur. Hier is die toring van die paleis gesien deur die
raamwerk van ‘n nabygeleë tempel.
Luang Prabang is
geleë by die samevloeiing van die Mekong en Nam Khan riviere, op ‘n skiereiland
tussen die twee rivierlope. Die Mekong is ‘n belangrike rivier in hierdie
gebied en loop van Tibet af deur Sjina, Myanmar, Laos, Thailand, Kambodja en
mond uit in die see ‘n ent suid van Saigon met ‘n groot deltegebied wat ons ook
besoek het.
Soos ek tevore vertel het, het ek die Mekong die eerste keer
raakgeloop by die ‘goue driehoek’ waar Thailand, Myanmar en Laos bymekaarkom.
Hier by Luang Prabang het hy nou al breër geword en is ‘n indrukwekkende
rivier. Daar is ‘n
hoërige heuwel in die middel van die dorp wat populêr omdat ‘n mens ‘n mooi
uitsig het oor die Mekong teen sononder. Die omgewing is nogal bergagtig en dit
is ‘n mooi toneel om te sien in die laatmiddag:
Daar is ‘n
bekende grot langs die Mekong so 25 km noord van Luang Prabang. Ons het per
boot (stroom-op) daarheen gevaar. Die landskap is nogal mooi, veral ‘n bietjie
verder noord, soos in die foto hieronder.
Die struktuur
regs langs die water is ‘n restaurant langs die rivier waar ons middagete
geniet het, en hier is ‘n foto van die toergroep aan tafel. Die persoon
heeltemal links is my kamermaat tydens die toer.
Langs die rivier is daar allerhande dorpies waar mense 'n bestaan maak uit hul handvaardigheid. Een van die algemene dinge is weefwerk, wat hulle pragtig doen. Die kinders leer van kleins al om te weef en dit is nog half die tradisie dat 'n meisie goed moet kan weef voordat sy kan trou.'n Ander algemene vaardigheid wat 'n mens teenkom is die maak van papier. Hulle maak die papier veral van moerbeibas en versier dit dan met blare of blomme.
Op baie plekke is daar sogenaamde nagmarkte in die aand, wat hoofsaaklik op die toeristemark afgestem is. Hier onder is die tentdakkies van die nagmark in Luang Prabang. Die produkte is ongelooflik goedkoop.
Ons sou vandag 'n baie mooi waterval in die omgewing besoek het, maar 'n tropiese reenstorm het ons toe beperk tot die muurlose restaurant by die ingang van die park. Toe het ons maar teruggekom hotel toe, wat my 'n bietjie tyd gegee het om vollediger verslag te doen.
More vertrek ons DV na Vang Vien, verder suid in Laos.










No comments:
Post a Comment