Thursday, May 17, 2012

Deel 14: Laos - Vang Vieng

Die kort lang pad na Vang Vieng

Vang Vieng is ongeveer 250 km suid van Luang Prabang, maar dit was 'n busrit van ongeveer 8 ure om daar te kom. Dit is die slegste pad wat ek in 'n baie lang tyd ervaar het. Dit was 'n teerpad gewees wat die Franse nog gebou het maar omtrent die helfte van die teer is al tot niet en verwyder sodat daar 'n entjie teerpad is dan weer grondpad, met 'n jong afgrondjie tussen die teer- en grondgedeeltes. Dit wissel so elke 200 meter - dus is die vordering stadig en stamperig.

Afgesien van die pad, is dit baie mooi landskap om deur te reis. Dit is baie bergagtig en die eerste helfte daarvan is omtrent heelpad 'n bergpad. As 'n mens nader aan Vang Vieng kom, kom 'n mens in die karst-landskap waarvoor Vang Vieng bekend is. Die foto hieronder is by die plek waar ons middagete genuttig het en dit is min of meer die begin van die karst-gebergtes.
Die restaurant is by 'n baie ho-e punt van die bergpad en het 'n pragtige uitsig. Daar het 'n reenstorm uitgesak 'n ent van ons af en dit het baie dramaties vertoon, soos in die panoramiese foto hier:
Nader aan Vang Vieng beweeg die pad nader aan die berge:
Vang Vieng is 'n kleinerige dorp maar dit het 'n groot plesiersentrum vir jongmense geword, met allerhande avontuuraksies wat daar plaasving. Die Nam Song-rivier wat daar deurvloei is 'n bron van groot plesier met mense wat in binnebande op die rivier afdryf of in kajakke rondvaar - of bloot die drinkplekke langs die rivier benut.
Ek en een van my reisgenote het op 'n motorbootvaart gegaan teen sononder en die omgewing is baie mooi, veral in die laatmiddaglig.
En:
Maar ook voor sononder is die riviertonele mooi:
Hierdie bamboesbruggies is nog algemeen in gebruik en 'n mens kom hulle baie tee. Hulle is 'n bietjie wankelrig, maar dien hul doel.

Die dorp is naby die karstgebertes en hierdie was die uitsig uit ons hotelvenster. Die rooi tafeldoeke onder is by die restaurant van die hotel, vanwaar 'n mens 'n baie mooi uitsig het.
Vang Vieng is 'n baie mooi plek, maar 'n mens moet jou sit ken om daar te kom! 

        

No comments:

Post a Comment