Siem Reap - en sononder by Pre Rup
Die w^ereld se grootste godsdienstige gebouekompleks, die Angkor-templelkompleks is net noord van die toeristesentrum Siem Reap in Kambodja. Dit is reusagtig en bevat duisende tempels. Die belangrikstes is egter redelik naby Siem Reap en maklik bekombaar.
Siem Reap is 'n groot dorp, heeltemal gefokus op toerisme. So, dit het 'n klomp hotelle, gastehuise en eetplekke - en natuurlik markte. Die markte van Siem Reap wat ek besoek het was aangename plekke. Die verkopers is baie vriendelik en te opdringerig nie. En die pryse is iets om van te droom! Dit is jammer dat 'n mens altyd met die massabeperking op jou bagasie moet saamleef.
Ons het in die middag in Siem Reap aangekom na 'n kort vlug uit Phnom Penh. Die eerste kennismaking met die tempels was dus in die laatmiddag, wat 'n baie goeie tyd is om die tempels te besigtig as dit nie bewolk is nie. En daar was wel wolke, maar nie te veel nie.
Die sononderbesoekpunt was die tempel by Pre Rup, nie te ver weg nie. Dit is 'n tempel wat min of meer dateer uit die jaar 1000 en is gebou van lateriet, 'n soort klip wat hulle in die omgewing uitgegrawe het en wat 'n warm kleur het, en baksteen. Dit lyk dus baie mooi met die lae laatmiddagson op die strukture:
Gelukkig het ons besoek in die lae toeristeseisoen (warm!) geval en was dit nie nodig dat 'n mens tussen 'n klomp mense deur 'n foto moes probeer neem nie.
Daar was heelwat lastige wolke maar die ou leeubeelde hoog op in die tempel het nogtans goed vertoon teen die laatmiddag lig.



No comments:
Post a Comment