Monday, April 30, 2012

Deel 3: Verblyf in Chiang Mai


Projekwerk in Chiang Mai


Chiang Mai is soort van die hoofstad van Noord-Thailand, so omtrent 'n uur se vlieg van Bangkok af. Dit was 'n ommuurde stad en reste van die steenmuur staan nog. Die grag is ook nog daar en dit word vol water gehou, wat 'n aangename atmosfeer aan die stadskern gee. Ek het later tydens my omswerwinge in Noord-Thailand vir 'n paar dae in die stadskern gebly, en dit was baie aangenaam. Later meer daaroor.
 Die ou grag en deel van die stadsmuur van Chiang Mai

Heather Smith het ons op die lughawe gekry en geneem na die huis waar ons sou bly. Die landlady was op die punt om te vertrek na Kanada en het ons vinnig vertel van wat in die huis aangaan en die huis en haar kat vir ons gelos. Ons het ook die luukse gehad van 'n bediende wat driekeer per week kom huis skoonmaak het en wasgoed gewas het.

Dit was 'n gewone gerieflike huis met twee slaapkamers en 'n studeerkamer in wat soort van 'n rykmansbuurt is. Ons blyplek was baie nederig in vergelyking met die paleise van huise wat in die omgewing is - ek dink dit is die grootste huise wat ek nog gesien het. Die woonbuurt is so 7 km suid van die stadskern, so half tussen 'n klomp ryslande. Ons het gewoonlik teen sonop 'n ent gaan stap vir oefening want later in die dag en middag laat is dit te warm - tot 38 grade. So, ek het 'n hele verskeidenheid van foto's wat in die oggend vroeg geneem is. Hier is 'n voorbeeld:

 Foto met sonop vanaf die restaurant waar ons dikwels saens gaan eet het

Dit was net so 15 minute se stap, dan was 'n mens buite ons woonbuurt en het die kontras ervaar van die mense wat in armoedige omstandighede tussen die ryslande woon. Party smous met 'n bietjie groente en vrugte langs die pad, het 'n klein winkeltjie - of, so lyk dit dit, doen niks.

Toe ons daar aangekom het, het daar 'n rookwolk oor die noorde van Thailand gehang wat die son redelik verswak het en temperature heelwat verlaag het na maks van so 28 grade. Dit was duidelik te koud vir party mens want in die vroegoggend het sommiges hulleself sit en warm maak voor 'n vuurtjie langs die huisie. By een geleentheid was daar 'n boer wat in die rysland gewerk het met groot los kleurvolle jas aan - nogal mooi. 
 Die boer met 'n groot skoffelpik oor sy skouer. Die rookmis is duidelik sigbaar.

Die rookmis het ook veroorsaak dat met sonop en sononder die son 'n redelike tyd redelik verdof was, wat 'n mens redelik tyd gegee om 'n foto in die son in te kan neem, soos hierdie een wat teen sononder geneem is:
'n Karaktervolle ou boom naby die pad waarlangs ons dikwels gestap het

So 100 meter van die huis af was 'n goeie restaurant, waar ons dikwels in die aand gaan eet het. Hulle het baie lekker kos gemaak, maar 'n mens moet maar oppas - die Thaise mense is lief vir kos wat gruwelooslik kan brand. Restaurante is redelik goedkoop. Vir twee groot etes was ons rekening gewoonlik so tussen R75 en R100 - en dit was in 'n sogenaamde duur restaurant. As ons moes gaan kos koop in die supermark, wat so 4 km weg was, het ons dikwels daar ge-eet vir so R35 vir ons twee. Ons het gewonder oor die 'gold fish' op die spyskaart en dit toe probeer. Dit is toe nie 'n goudvissie nie, maar 'n reuse vis wat genoeg was vir die twee van ons. Dit was baie lekker en ons het dit meermale ge-eet.

Iets interessants in verband met die verkeer in Chiang Mai, en ook ander plekke in Thailand is dat hulle beheerde U-draaie deel van hul verkeersreeling maak. Dit hou onder andere in dat as 'n mens wil regs draai in 'n groot straat met geskeide bane, jy eers 'n entjie links (in die verkeerde rigting) moet ry tot by die eerste kruising en dan 'n U-draai maak. Hulle merk die regterkantste verkeersbaan in so 'n geval dan baie duidelik dat dit vir 'n U-draai is. Dit vat 'n rukkie om gewoond te raak daaraan, maar dan werk dit goed. En dit vereenvoudig nogal die konstruksie van padaansluitings.

Iets oor die weer: Maart/April val in die middel van die dro-e seisoen in die hele noordelike streek van Thailand, en dit is die warmste tyd van die jaar daar. Dit is nie die beste tyd van die jaar om in Thailand te wees nie, en daar is relatief min toeriste hierdie tyd van die jaar. Die projekskedule het egter die tyd van ons besoek bepaal en ek moes maar daarby aanpas. Dit is ongelukkig ook die vaalste tyd van die jaar - die gras is nie heldergroen nie. Verder is dit goed warm. Buiten vir die tyd wat die rookmis erg was en die son afgeskerm het, was dit so 33 to 36 grade in Chiang Mai. Met my reise teen die einde van April het dit nog warmer geword, tot 39 grade. So, dit was nie ideale reisweer nie, maar 'n mens pas maar daarby aan. 

Daar is 'n engelstalige kerk in Chiang Mai waarheen ons elke Sondag gegaan het. Hulle hou kerk in die middag laat omdat baie van die lidmate betrokke is by sendingkerke wat in die oggend eredienste hou. Die liturgie het 'n sterk amerikaanse inslag en die atmosfeer is informeel en gesellig. Ek het vir die eerste keer Palmsondag beleef, die Sondag voor Goeie Vrydag. Dit is ter herdenking van Jesus se intog in Jerusalem. En dit is 'n feestelike geleentheid waartydens die kinders 'n belangrike rol gespeel het en hulle gate uit geniet het. Almal in die kerk kry ook palmtakkies om rond te waai. Dalk kan ons iets leer by hulle.

Ek wou ook nog vertel het van die fantastiese werk wat Trevor en Heather Smith in Chiang Mai doen - aanvanklik met die melaatse mense maar hulle was suksesvol om melaatsheid omtrent uit te roei in Noord-Thailand en het in later tye algemene rehabilitasiewerk van gestremde mense met groot sukses gedoen. Ek gaan dit egter laat vir later as dit rustiger is en ek ook weer toegang het tot die dokumentasie wat ek in Bangkok agtergelaat het.




1 comment: