Monday, April 30, 2012

Deel 1 - Agtergrond


Opdrag


Ek dra die reisblog op aan die nagedagtenis van Bessie, my gees- en reisgenoot oor baie jare. Sy het van eksotiese goed gehou en sou 'n reis soos hierdie baie geniet het.
   


Inleiding 

Ek doen al vir 'n klompie jare 'n jaarlikse projek vir die Melaatse Sendingorganisasie (TLM) met hoofkantoor in Londen. Dit behels 'n statistiese opname van die bedrywighede van die projekte van TLM in Afrika, Indië en Suid-Oos Asië, die berging van die inligting in 'n databasis en hulp met die saamstel van die jaarlikse statistiese verslag van TLM. Die projekleier, Natalie Smith, tans werksaam in Oos-Timor, en ek kom dan elke jaar so teen Maart/April bymekaar om die finalisering van die projek te doen. Dit het nou al die gebruik geword dat sy een jaar Potch toe kom en ek die volgende jaar na 'n plek naby haar gaan vir hierdie verwerking. Vanjaar het dit so uitgewerk dat daar 'n groot vergadering van TLM se 'country leaders' in Bangkok sou wees, en die topbestuur van TLM het aanbeveel dat ons die inligtingsverwerking in Thailand doen. Weens koste- en ander oorwegings is dit toe in Chiang Mai, in Noord-Thailand gedoen. Natalie se oom en tante, Trevor en Heather Smith, werk al vir 40 jaar onder die melaatse mense in Chiang Mai en was 'n groot hulp gewees om 'n werk/blyplek daar te kry. Heather het uiteindelik een van die lidmate van hulle kerk opgespoor wat vir 6 weke Kanada toe gaan om te kuier en ons het toe in haar huis gebly. Jakkals Reinecke werk al vir twee jaar saam met ons en hy het ons uit Potch ondersteun.


So het ek toe in Thailand geland. Eers in Bangkok vir 'n week vir samesprekings en toe vir 4 weke se werk in Chiang Mai. Dit was 'n baie besige tyd en ek het nie iets aan beriggewing kon doen voordat ons klaar gewerk het en ek 'n bietjie van 'n blaaskans gehad het nie - vandaar hierdie laat poging om darem nog iets te laat weet van die uiters interessante besoek.


Na die werkery in Chiang Mai het ek op my eie vir 'n tyd rondgereis in Noord-Thailand en toe via Sukhotai gereis na Bangkok. Daar het ek dit 'n bietjie rustig geneem om 'n blaaskans te kry voor die toer deur Vietnam, Laos en Kambodja waarmee ek nou besig is.


My reisplan was/is min of meer soos volg:
  • Samesprekings in Bangkok, 8 tot 15 Maart
  • Werk in Chiang Mai, 15 Maart tot 12 April
  • Rondreis in Noord-Thailand, 12 tot 23 April
  • Blaaskans in Bangkok, 24 tot 28 April
  • Toer deur Vietnam, Laos en Kambodja, 29 April tot 24 Mei
  • Laaste paar dae in Bankok tot my terugvlug na SA, DV op 28 Mei.
Om 'n aanduiding te gee van waar die plekke is waar ek in Thailand was, sluit ek 'n kaart in wat my fotoredigeerder saamstel van die plekke waar ek foto's geneem het:
Ek wil nie nou tyd spandeer om plekname by te sit nie, maar die nommers (eintlik is dit die aantal foto's per plek) dui die volgende vernaamste besoekpunte aan:
199   Bangkok
534   Chiang Mai
24     Pai
39     Mae Hong Son
14     Sjinese dorpie gestig deur Chiang Kai-sjek
18     Chiang Rai
76     Die goue driehoek, die bymekaarkompunt van Thailand, Myanmar en Laos 
133   Sukhotai
            

No comments:

Post a Comment