Die hoofstad van Vietnam: Hanoi
Hanoi is die hoofstad en tweede grootste stad (naas Saigon) van Vietnam. Dit het ongeveer 8 miljoen inwoners en is 'n besige metropolis. Die verkeer is baie druk en die bestuurders is ongeduldig. In Vietnam word toeters aanhoudend gebruik en orals in 'n stad hoor 'n mens die voortdurende gepieppiep van toeters van motors en motorfietse. Daar is hordes motorfietse, soos in Saigong, en 'n mens moet jou loop ken om oor 'n straat te kom.
Ons het die oggend vroeg per vliegtuig in Hanoi aangekom, uit Hue - die ou keiserlike stad in die middel van Vietnam. Dit was 'n skrapse kennismaking met Hanoi, want ons het die aand weer per trein na Sapa vertrek, 'n besoek waaroor ek reeds vertel het. Wat dit ook ongemaklik gemaak het, is omdat dit omtrent heel oggend lig gereen het en gevolglik is baie van die foto's hieronder in die reen geneem.
Ons eerste besoek was aan die Ho Chi Ming woning en gedenkteken. Hy was die revolusion^ere leier van Vietnam wat Vietnam tot onafhanklikheid gelei het aan die einde van die Vietnamese oorlog in 1975. Hy word wyd vereer as die vader van die moderne Vietnam. Hy het in die redelik eenvoudige huis aan die anderkant van die meer gebly:
Na sy dood het hulle (teen sy uitgesproke wens) 'n mausoleum vir hom gebou volgens die patroon van die Lenin-mausoleum in Moskou:
Op dieselfde terrein is 'n ander gewilde besoekpunt, die enkelpilaarpagoda. ('n Pagoda is 'n toringagtige plek van aanbidding). Soos die naam aandui, rus hierdie een op 'n enkele pilaar:
Dit wat lyk soos 'n paal aan die linkerkant is 'n bamboes. Die goed groei baie geil en hoog hier.
Dit wat bekend staan as die tempel vir literatuur, hieronder, was die eerste universiteit van Hanoi, wat in 1070 gestig is. Dit is nou 'n sentrum van Confucius-studie.
Ons het later weer teruggekeer na Hanoi en meer tyd daar spandeer. Dit is 'n mengsel van oud en nuut, verwaarloos en modern. Ons was in 'n luukse hotel en reg oorkant die hotel was straatverkopers aktief, soos oral in Vietnam.
Die gids het, tong in die kies, verduidelik dat sypaadjies in Vietnam nie bedoel is vir voetgangers nie maar vir verkopers, parkeerplek vir motorfietse en bergplek van boumateriaal!
Die volgende foto gee nogal iets weer van die belangrike komponente van Hanoi: verkopers, kegelvormige hoede, toeriste en motorfietse:
Hanoi het ook sy deftige gedeeltes, veral in die ou Franse buurt. Hier is die fasade van die operahuis 'n bietjie van onder bekyk om die alomteenwoordige rooi vlae van die revolusie te beklemtoon:
Iets anders waarvoor Hanoi bekend is, is die watermarionette. Die poppespel word in die water gedoen. Dit is kleurvol en gebaseer op volksdramas, begelei met inheemse musiek:
Vietnam het 'n wye verskeidenheid van etniese groepe en hulle het 'n groot uitgebreide museum vir etnologie waarin die woonstyle, kuns en ander aspekte van die verskillende groepe uitgebeeld word. Hierdie is een van die primitiewe beelde wat my oog gevang het:
Ek hoop dit alles gee iets weer van die stad Hanoi.









Cobus
ReplyDeleteWeens onbestendige lewenswandel het ek jou reisjoernaal eers vanoggend gelees, van voor tot agter. Die foto's is absoluut ongelooflik mooi. Sterkte vir die deel wat voorlê en hou asseblief vol met die joernaal.