Monday, June 4, 2012

Deel 17d: Iets oor die ander tempels

Nog 'n paar los foto's en indrukke van die Angkor-tempels


Daar is so baie tempels in die Angkor-tempelkompleks dat dit moeilik is om 'n sinvolle beeld daarvan weer te gee.  Daar is al dik boeke geskryf oor hierdie tempels, en om in 'n paar paragrawe iets daarvan weer te gee is moeilik. Dit is ook 'n probleem dat die gidse dikwels konsentreer op die detail en nie op die groot prentjie nie. Ek gee dus maar net 'n paar gedagtes en foto's om iets weer te gee van 'n grootse ervaring. Gaan kyk maar self - dit is die moeite werd!

Daar is nog twee indrukke van Angkor Wat wat ek uitgelaat het uit die vorige deel van die blog. Die eerste was die amper eindelose trappe in temperature van bokant 35 grade. Dit word nog vererger deurdat die klip vuurwarm bak in die warm son. (Ek sal later iets s^e oor die tyd van die jaar om 'n draai te maak in Suid-Oos Asi-e.) Hier is 'n blik op die steil trappe wat die ouens in die ou tyd gebou het:

Die trappe het 'n hoek van ongeveer 45 grade en is baie nou. Gelukkig het hulle op baie plekke ander trappe met 'n redeliker gradi-ent aangebring.  
Die ander beeld van Angkor Wat wat my bybly is die van 'n warmlugballon wat net bokant die gebou sigbaar was, byna soos 'n surrealistiese maan wat opkom:


Net noord van Angkor Wat is Angkor Thom, wat die hoofstad was van koning Jayavarman VII, wat regeer het van 1181 - 1200 en een van die groot bouers van hierdie komplekse was. Angkor Thom is 3 km vierkant met 'n grag rondom, en daar het derduisende mense gewoon waar nou net oerwoud is. Die stad was omsluit deur 'n 8 meter ho-e muur, met vyf poorte in. Die suidpoort is die indrukwekkendste, met 'n lang ry beelde langs die pad oor die grag:
Soos ander bouwerke van Jayavarman VII, is daar op die toring van die poort vier gesigte in die vier windrigtings:
In die middel van Angkor Thom is die Bayon-tempel, 'n baie groot kompleks.
Daar is 'n groot versameling bas-reliefbeelde in die tempel wat onder andere gewone lewensomstandighede uitbeeld. Hier is 'n voorbeeld van 'n ou wat 'n vuur aanblaas:
Daar is baie meer beelde wat die gewone lewe en ook gebeure tydens gevegte uitbeeld.

Noord van die Bayon was die koninklike paleis. Aan die voorkant daarvan is die Olifantterras, so genoem weens die olifantbeelde orals teen die  muur van die terras:
Die terras was blykbaar gebruik vir koninklike onthale.

Oorkant die Olifantterras is daar twaalf tempeltjies of paleisies. Daar is baie spekulasie oor die gebruik daarvan. Die kleurvolste daarvan (en deur ons gids vertel) is dat die koning twaalf mooi meisies daar laat woon het ...... Hier is twee van die geboutjies:
(Die voertuigie in die voorgrond is die alomteenwoordige toektoek. Dit kom voor in velerlei vorms, afhanklik van waar jy is. Dit gebruik altyd 'n motorfiets as aandrywer, wat soms 'n integrale deel van die toektoek vorm, maar soms is die motorfiets heeltemal los, soos hier. In Sukotai was hulle selfs agterstevoor-om, met die motorfiets wat die sitgedeelte stoot - nogal 'n snaakse ervaring. In Siem Reap was hulle baie besadig, maar in Bangkok jaag en kronkel hulle soos derduiwels deur die volbesette strate sodat 'n mens nie jou lewe seker is nie! Maar dit is 'n baie beskikbare en ekonomiese vorm van vervoer.)

Preah Khan is net noordwes van Angkor Thom en is ook een van die bouwerke van Jayavarman VII. Die afleiding is dat dit 'n Boedistiese universiteit was wat sowat 1000 dosente gehad het - dus 'n groot plek. Hier is 'n paar foto's daarvan:
En
Ook hier is die gebou deurkruis van indrukwekkende lang gange wat mekaar kruis:


Jy raak seker al verveeld met al die tempels. Nog 'n laaste een: Wat Bakong is die oudste sandsteentempel in Angkor en is gebou deur die tweede koning van Angkor, rondom die jaar 880 - dus baie oud. Rondom die tempel is ou baksteentorings wat verbasend goed bewaar gebly het. Hier is een daarvan:
Hier is 'n aansig op Wat Bakong.
In die laatmiddag as die son laag is, lyk dit nogal mooi:

Dit was nou 'n vinnige oorsigtelike reisie deur die Angkor-tempels naby Siem Reap in Kambodja. Weer eens is dit iets wat 'n mens nie regtig in 'n foto kan vasl^e nie. Dus, as jy belangstel om 'n regtige indruk te kry, pak maar jou tassies en gaan kyk. Siem Reap is wel 'n toeristesentrum, maar is baie bekostigbaar. Na die afsluiting van ons toer het ek nog 'n ekstra dag oorgebly. Die verblyfkoste vir die ekstra nag was $13 in 'n goeie hotel wat 'n entjie weg was van die sentrale dorpsgebied. En vir die dames - die markte van Siem Reap het goedere en pryse om van te droom! Maar pasop vir oorgewigbagasie. Ek het by die lughawe van Bangkok saam met bek-af ouens gewag wat R10 000 vir oorgewigbagasie moes betaal.



                            

No comments:

Post a Comment